Call us +27 836099683
Visrivier Canyon Staptog Junie 2021
Na twee jaar se wag kon ons op 2 Junie 2021 uiteindelik na Namibie, Ai Ais vertrek om die 85 km lange staproete van die Visrivier Canyon aan te durf. Ons moes die vorige jaar die avontuur uitstel weens die Covid Pandemie. Die NWL was vriendelik genoeg om ons staptog na die volgende jaar te verskuif
Omstreeks 05:00 was ons opgewonde gereed om vanaf Mosselbaai te vertrek Die bussie was gereed en almal het opgewonde uitgesien na die nuwe avontuur.
Na ‘n baie rit in mistige toestande het ons op Riversdal stilgehou waar ons ‘n heerlike koppie koffie geniet het. Op Worcester het ons vir Armand, Lizette en Huibre opgelaai en ook naarstiglik na ‘n spaarband vir ons waentjie gesoek. Die spaarwiel van die waentjie was nie meer bruikbaar nie. Ek en Daleen asook Geoff en Su Carter het die bussie in ons eie motor gevolg. Elinor en Elaine sou die volgende dag by ons aansluit.
Na ‘n heerlike “brunch” by die “Kardoesie” Padstal het ons verder gereis na Springbok waar ons in die Springbok karavaanpark in gerieflike rondawels oornag het. Ongelukkig was daar “loadshedding”en moes ons in die donker by flitslig en koplampe braai. Dit was ook yskoud. Dit het egter nie ons geesdrif gedemp nie. Geoff het ons met sang en kitaarspel vermaak.
Die volgende oggend was dit eers waentjie wiele omruil terwy ander hulle Covid toets uitslae laat uitdruk het en sommige laaste inkopies gedoen het voordat ons na Vioolsdrift Grenspos vertrek het. Alles het glad verloop aan die Suid Afrikaanse kant sowel as aan die Namibie kant by Noordoewer en was ons spoedig oppad na Ai Ais.
Ai Ais het laat verlede jaar erg oorstroom en was daar steeds duidelike vloedskade weens die geweld waarmee die Visrivier deur Ai Ais gebars het. Die kampplek, restaurant en geboue was egter baie netjies en was daar steeds herstelwerk aan die gang. Ons het spoedig ons tente opgeslaan en na ‘n heerlike braai en saamkuier, weereens met sang en kitaarspel , kon ons gaan inkruip.
Vroeg die volgende oggend 4 Junie was ons rugsakke gepak en was ons gereed om na Hobas te vertrek. Ons moes op Hobas vrywarings teken en ook mediese sertifikate inhandig. Daar was ook ‘n bewaringsfooi van R100 per besoeker betaalbaar. Met dit alles afehandel kon ons sowat 10 kilometer verder na die beginpunt van die staptog ry. Die paaie na en van Ai Ais en na Hobas was in ‘n uitstekende toestand en volgens alle aanduidings pas geskraap. Die rit na Hobas het sonder voorval verloop. Oppad het ons ook ‘n paar Springbokke gewaar.
Die Visrivier het, volgens stappers wat ons op Hobas ontmoet het, nog gevloei en het ons uitgesien na genoeg water op die staproete.
Die afgaan in die Canyon bly intimiderend. Vir die eerste 200 meter daal jy letterlik loodreg in die Canyon af waarna die paadjie dan geleidelik meer gelyk word. Hier moet jy uiters versigtig wees. Alhoewel daar kettings aangebring is kan jy nie regtig daarop staatmaak nie want heelwat van die kettings word vermis of is aan los paaltjies geanker. Die meeste beserings vind dan ook plaas met die afgaan in die Canyon.
Die afsak in die Canyon het gelukkig sonder enige voorvalle of beserings plaasgevind en het ons onsself sowat twee ure later op die bodem van die Canyon bevind waar sommige van die groep onmiddellik die geleentheid gebruik het om in die koue water van die Visrivier te swem. Suzelle en Rene het vir Armand gewag. Armand het nog ‘n toets gehad wat hy moes skryf en het ‘n bietjie later as die res van ons by die beginpunt aangekom.
Dit was gou duidelik dat die afgaan sommige stappers erg ontsenu het en het ons na ‘n kilometer of twee besluit om kamp op te slaan. Sommige stappers het ‘n entjie verder gestap maar die meerderheid het besluit dat dit genoeg was vir een dag.
Vroeg op dag twee was ons gereed om die roete weer aan te pak. Dit was gou duidelik dat dit seker een van die moeilikste dae van die staptog was. Ons moes om reuse rotse maneuver en telkens het ons onsself in dik sand bevind. Huibre was ‘n diabeet en was dit belangrik om haar voedsel en water inname te kontrolleer. Henrietha het haar oor Huibre ontferm en het ek besluit om ook by die twee te bly. Die res van die groep het vooruit gestap terwyl Elinor en Elaine besluit het om die agterhoede te dek. Huibre moes uurliks ‘n bietjie rus en iets eet om haar suikervlakke reg te kry. Die res van die groep het vooruit beweeg en sou ons in twee groepe verder stap. Ons het die res slegs weer op Ai Ais gesien. Hulle is weg met beide Slingsby kaarte. Gelukkig kon ons sonder kaarte ons pad vind.
Drie mans wat vroeg die oggend gesak het het ons verbygesteek en ‘n entjie verder kamp opgeslaan. Hulle sou ons die volgende dag weer verbysteek.
Kort voor donker het ons besluit om sowat ‘n halwe kilometer voor die swaelbronne kamp op te slaan. Elinor en Elaine het hulle by ons aangesluit. Ons het vroeg ingekruip na ‘n heerlike maar moelike dag se stap
Die volgende oggend met eerste lig was ons weer oppad. Op die twintig kilometer merk het die mans van die vorige dag ons weer verbygesteek. Ek het ‘n spinnekopbyt aan my been gehad en het hulle ons ‘n antibakteriese room gegee om aan te smeer. Na ‘n vinnige fotosessie was almal weer oppad. Dit sou weer ‘n lang dag se stap wees. Huibre het intussen goed herstel en het goed begin stap. Dit was ‘n heerlike warm dag en Het Henrietha die geleentheid gebruik om in die heerlike koel water te swem. Die wind het later die dag begin waai tot so ‘n mate dat dit ons rondgeruk het. Net voor donker het ons weer kamp opgeslaan. Die wind het steeds gewaai en was ek dankbaar dat ons wel ‘n tent gehad het. Die fyn sand het oral ingedring. Die wind het later die aand bedaar.
Die terrein het makliker geword maar die rivierkruising het meer geword. Ons moes telkemale “bolder hopping” op die klippe oor die rivier doen. Die rivierbedding bestaan hoofsaaklik uit ronde klippe. Dit was ook vir ons belangrik om die kortpaaie te vind anders sou ons baie verder moes stap. Ons het gelukkig al die kortpaaie gevind wat ons ook by die Duitser se graf verbygeneem het. Dit was redelik laat en ons het met ons aankoms by die rivier besluit om kamp op te slaan waar Elinor en Elaine ons kon sien. Die twee het later as ons die oggend vertrek. Ons was bang dat hulle ons nie in die donker sou sien nie. Dit was reeds donker toe hulle uiteindelik by ons aangesluit het. Daardie nag moes ons ‘n paar donderstorms trotseer wat ons genoop het om onder ons tent se grondseil te gaan lĂȘ het. Ons tent het nie buite seil gehad nie en was die binnekant nie waterdig nie. Huibre het in ‘n plastieksak geslaap. Ons kon gelukkig daarin slaag om redelik droog te bly.
Vandag was die laaste dag van die staptog. Ons het later vertrek omdat ons eers ons nat bagasie moes uitsorteer. Ons slaapsakke was nat. Gelukkig sou ons die aand in Ai Ais wees. Dit was weer ‘n lang dag en het ons eers teen sononder op Ai Ais aangekom waar ons ‘n heerlike hamburger geniet het om nie eens te praat van die lekker yskoue bier nie. Die meeste lede van ons groep het besluit om in Chalets te slaap in plaas van hulle tente. Daleen het op Ai Ais gekamp en was ons tent steeds opgeslaan. Henrietha het ook besluit om in haar tent te slaap.
Die volgende dag het Fred, ons busbestuurder die groep ‘n bietjie rondgevat voordat ons almal na Springbok vertrek het waar ons weer sou oornag. By die grenspos moes ons weer ‘n Covid 19 toets ondergaan. Almal was gelukkig negatief en het ons weer in die Karavaanpark oornag. Die krag was weer die hele nag af. Ons het die volgende dag huiswaarts gekeer.
Dit was ‘n wonderlike ervaring. Blase, blou tone, seer spiere en al. Volgende jaar doen ons dit weer.
Dit was heerlik!!
You must be logged in to post a comment.